Wednesday, May 9, 2012

Ek is weg...

Om 'n ouers te wees is nie maklik nie. Mens maak daagliks foute en jy glo en hoop dat jy uit jou foute leer. Jy hoop ook dat jy jou kind 'n paar foute kan spaar maar in die meeste gevalle sal jou kind hul eie paadjie stap en hul eie foute maak. Dit is egter erg as jy na 5 jaar se ouerskap een dag asof wakker word en net weet dat jy nie "jy" is nie - jy het in daardie slaggat getrap en jy is "iemand" se ma.

'n Eie identiteit is so belangrik. Ek meen dit is die geskenk wat ons ons kinders wil gee. Hoe is dit dan moontlik dat mens so van jouself kan wegdryf? Daar is 'n statistiek wat ek êrens gehoor het, (ja ek weet baie wetenskaplik), wat lui dat baie huwelike faal in die eerste 2 jaar na 'n nuwe baba. Ek kan dit verstaan. Dink net... jy het 'n nuwe "titel", 'n fokus en plan. Om nie eens te noem dat jy 'n hulpelose, nie-kommunikatiewe suigeling het wat jou sintuie en hormone omdolwe nie. Dan praat ek nog nie eens van die nuwe ma nie ;-)...

Ek dwaal egter af... wat ek wil sê gaan nie oor die probleme in 'n huwelik met 'n baba nie, ek wil praat van daardie wegraak van EK... Daardie persoon met 'n (persoonlike) ruimte - wat so anders is as wat jy nou is.

Ek het gister wakker geword en geweet EK is weg, verdwaal, misplaas, vermis en toe ek so bietjie daaroor gedink het, het ek agtergekom dat ek al vir omtrent 7 jaar nie meer hier is nie.

Nee liewe leser moenie dink ek is nou finaal die kluts kwyt nie, ek is maar net eerlik. Sien tussen "deadlines" en kliënte daaglikse rondslomp.... het ék verlore geraak. Daar was ek so vasgevang dat ek nie eens agtergekom het dat die essensie van my weg is nie. So is een van my grootste drome bewaarheid in 'n tyd toe ek nie eens daar was nie. Ek het swanger geraak en 'n pragtige dogter gehad. Daar was al die weelde van 'n suksesvolle vooruitboerder soos ek, maar nou in die terugkyk was ek al klaar "missing".

Die sprankel en pret van my was weg en is in 'n groot mate steeds. Daardie gewaarwording dat ek nie tans myself is nie, is versterk deur die weerkaatsing van iets bekends, iets prettigs en parmantig selfs sjarmant. Daardie bekende wat soms asof deur mis deurskemer. Die dag toe ek vir langer as 'n flietende oomblik voor myself te staan gekom het en geweet het dat daardie persoon werklik EK is...

So hierdie gaan oor meer as 'n soeke na die self - hierdie gaan oor wegraping, doolhowe, "puzzles", misleiding. Sodat jy nie eens wéét jy is weg nie. Hierdie liewe leser is 'n uitdaging om na jouself in die spieël te kyk en te sien of jy nog daar is.

Hierdie is 'n uitdaging om jouself te gaan soek...

No comments: